| Fokus op Jesus (7 Maart 2010) |
|
|
|
| Preeknotas - Ds Johann Serfontein | |
| Tuesday, 09 March 2010 00:00 | |
LEES HEBREëRS 12:1-3 Ons reeks vir hierdie termyn handel oor: eenvoudig gefokus. In aansluiting by verlede week, is ons tema vir vandag: Fokus op Jesus. Verlede week het ons vanuit die eerste vers stilgestaan by die wedloop van die geloof waaraan alle gelowiges deelneem. Vandag is die vraag: Hoe doen ‘n mens dit? Hoe kry jy dit reg om te bly vasbyt, om op die regte baan deel te neem en seker te maak dat jy wel in die wedloop vorder? Dan sal die Hebr. skrywer antwoord: Hou die oog gevestig op Jesus. Om te verstaan wat dit beteken, moet ek eers die destydse gebruik verduidelik. Omdat die mense bang was vir die see, vanweë die bose geeste en demone wat in die see gebly het, was daar min mense wat kon swem. As hulle dan op ‘n bootjie die see ingevaar het, het hulle probeer om iemand saam te neem wat wel kon swem, en daarmee saam ook ‘n bol tou. Hulle het hom ‘n "archegon" genoem. Indien die bootjie in die moeilikheid sou beland, moes die archegon dan die tou om sy middel vasmaak en daarmee uitswem land toe om dit daar vas te maak. Nou kan ‘n mens jou indink hoe hierdie mense op die bootjie met hul volle aandag na die archegon gekyk het hoe hy deur die branders land toe geswem het, want as hy dit nie sou maak nie, het hulle verseker verdrink. Hierdie beeld word nou op Jesus toegepas. Hy is ons archegon, ons lewensredder, na wie ons so moet kyk, "die oog gevestig op" Hom, want Hy het op land (die regterhand van God) aangekom, maar is nou (soos Wolraad Woltemade) saam met ons in die water om ons te help om aan die hand van die tou (God se trou, liefde en genade) self ook op land aan te kom. Die eerste implikasie van hierdie beeld is dat ons nou in die water tyd spandeer. Met die sondeval het die wêreld se bootjie in die moeilikheid beland en ons almal ervaar hoe die golwe somtyds oor ons spoel. Die sout brand ons oë sodat ons dikwels huil. Maar ons archegon is by ons, en God se t(r)ou is ons enigste hoop op redding. Die eerste punt wat die skrywer baie helder wil onderstreep is dat as jy aan die wedloop deelneem, dit absoluut noodsaaklik is om op Jesus te fokus. As jy met ‘n verkyker kyk, kan jy na baie goed kyk, maar jy moet besluit waarop jy die verkyker wil rig sodat jy mooi daarna kan kyk. Daar is baie ander dinge waarna ons kan kyk, waarop ons kan fokus, wat die aandag van Hom wil aftrek. Daar is baie dinge wat kompeteer om die eerste plek op ons prioriteitslysie in te neem, goeie dinge selfs, noodsaaklike dinge selfs, maar dit is nie waar ons redding vandaan kom nie. In vandag se tyd, soos in die tyd van Jesus (al), is die grootste saak wat met Jesus kompeteer, geld. Daarom dat Jesus gesê het dat ons nie God en mammon (die geldafgod) terselfdertyd kan dien nie. Ons sal baie seker moet maak dat ons ons oë op Jesus gevestig hou.
Dit is ook onder andere waaroor die doop gaan. Die doopwater vertel ons van die feit dat ons in die watertyd lewe, dat Jesus as ons archegon gekom het om ons te red en dat ons ouers geroep is om ons met hierdie drie dinge te help, nl. om op Jesus te fokus (1) deur dit wat hulle sê (2)en dit wat hulle doen (3). Mag die Here ons almal hierin help. Sterkte vir die wedloop van die week wat voorlê. Ds Johann |
|