Home Dienste Erediens
Meer oor gebed PDF Print E-mail
Dienste - Gebedsdiens
Monday, 23 November 2009 09:24

boekie_7Elke tweede Sondagaand om 18:00 het ons 'n Gebedsdiens vir die hele gemeente.  Hou die afkondigings dop vir meer inligting.  Hier is interessante feite rondom Gebed om u beter begrip te gee oor hierdie belangrike aspek van ons geloof:

AANHOU

Hoe lank moet mens aanhou om vir iets of iemand te bid?

Dit hang seker af van waarvoor jy bid. 'n Mens moet natuurlik eers seker maak dat jy vir die regte ding vra. Soms moet ons hemelse Vader vir ons nee sê omdat ons vir verkeerde goed vra. Dit is daarom altyd beter om te begin deur voor die Here stil te word en Hóm te vra wat jy vir daardie persoon of saak moet bid.

As jy egter seker is dat daardie saak volgens God se wil is, dan moet jy aanhou totdat jy die antwoord kry. Ons lees byvoorbeeld in Daniël 10:2 dat Daniël vir drie weke lank gevas en gebid het. Aan die einde van daardie tydperk het 'n engel van die Here aan hom verskyn om die antwoord te bring.

Dan lees ons in vers 12 dat die engel verduidelik dat Daniël se gebed reeds die eerste dag verhoor is, maar, sê vers 13, die antwoord is 21 dae vertraag deur 'n bonatuurlike stryd. Ek wonder soms of hy hoegenaamd die antwoord sou gekry het as hy na 'n paar dae moedeloos geword het en opgehou bid het.

Dit is egter belangrik om te ontdek dat God wil hê dat ons moet aanhou bid.

Ons lees in Lukas 18:1:

``Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.'' en dan vertel hy die storie van die arm weduwee en die onregverdige regter. Toe die weduwee aanhou, is haar versoek toegestaan. Hoeveel te meer sal die Here dit nie vir sy kinders doen nie.

Dit word vertel dat Moody 40 jaar lank vir die bekering van twee vriende gebid het. Een het eers net voor Moody se dood tot bekering gekom, en die ander eers daarna. Maar daardie gebede is verhoor. Ons kan dus maar met vrymoedigheid in die gebed volhard. Volhardende gebed kan werklik dinge verander.

AFLEES

Kan ek 'n gebed aflees?

Ja, solank jy bedoel wat jy sê. Onthou, die Here word nie beïndruk deur ons mooi woorde en helder gedagtegang nie. Hy kyk na ons hart. Soms verhoor Hy selfs gebede wat ons nie weet hoe om dit in woorde uit te druk nie. Ons lees byvoorbeeld in Romeine 8:26-28:

``Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, di‚ wat volgens sy besluit geroep is."

Ons kan dus sê dit is beter om liewer 'n eenvoudige en kort gebed uit die hart te bid, eerder as om iemand anders se uitgeskrewe gebed af te lees. In gebed gaan dit nie om wat die mense dink nie, maar om wat God dink. En Hy verhoor net gebede wat uit die hart kom. As jy self die gebed geskryf het, is dit natuurlik makliker om die gebed te bedoel.

Is dit dan reg vir 'n leraar om formulegebede te bid?

Formulegebede is pragtige uitgeskrewe gebede wat opgestel is om by besondere geleenthede te pas. Sommige kerkgenootskappe maak meer daarvan gebruik as ander. 'n Voorbeeld is die gebede wat saam met die verskillende formuliere, soos byvoorbeeld by die doop of die nagmaal, gebruik word.

Om as gebed geklassifiseer te word, moet die gebed egter bedoel word. Dit help niks om die formulegebed af te rammel nie. Dit is nie 'n toorformule wat dinge laat gebeur omdat presies daardie woorde gebruik is nie. Die 1933-vertaling van Matt. 6:7 stel dit so mooi:

``En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hulle baie woorde verhoor sal word."

Tog is dit interessant dat Jesus net nadat Hy teen ydele gebede gewaarsku het, voortgegaan het om die "Ons Vader"-gebed aan sy dissipels te leer. Daar is dus niks verkeerd om van so 'n hulpmiddel gebruik te maak nie. Moet tog net nie dink dat dit vir jou tot voordeel sal wees om dieselfde formule oor en oor op te sê nie.

Aan die ander kant is 'n geskrewe gebed 'n waardevolle hulpmiddel om ons te leer om reg te bid. As ons bv weet hoe Jesus gebid het, dan help dit ons om nie so selfsugtig te bid nie, maar om God se wil en sy koninkryk eerste te stel in ons gebede.

 

 

 

Warm nuus

Praat saam op die Forum

Vers vir die Dag

Bybel-Media