Home Preke Ds Johann Serfontein Hartseer en seerkry (31 Januarie 2010)
Hartseer en seerkry (31 Januarie 2010) PDF Print E-mail
Preeknotas - Ds Johann Serfontein
Wednesday, 03 February 2010 00:00

Preke

 

Lees Lukas 9: 57-62
Teksvers: Lukas 9: 59 en 60

Ons is besig met ‘n reeks waarin ons mekaar wil help om eenvoudig op Jesus te fokus, maar ons besef daar is baie dinge wat ons aandag van Hom aftrek, met allerhande negatiewe gevolge. Ons wil hierdie "aandagaftrekkers" ordentlik bekyk, sodat ons kan leer om werklik op Hom te fokus.

Vir die kinders. Almal van ons het êrens ‘n merk van ‘n wond wat ons een of ander tyd opgedoen het. Toe dit gebeur het, was dit bitter seer en ons moes dadelik daaraan aandag gee. Mamma moes dit ontsmet of ‘n pleister opsit. As dit ‘n ernstiger besering was, moes ons dokter toe gaan vir steke. As dit baie erg was, sou ons dalk in die ICU kon beland. Maar wat sou gebeur as ons by die huis kom en aanmekaar in die wond krap? Die steke sou losgaan en die wond sou nie kon herstel nie en op die ou end laat dit ons met ‘n groter litteken. Dit beteken daarom dat daar ‘n tyd kom wat ons die Here se herstelmeganisme in ons liggame moet toelaat om sy werk te doen. Ons moet ophou krap ter wille van die herstel. Ons moet ook onthou dat die merk van die wond nooit heeltemaal weggaan nie. Dit bly daar, maar ons kan met litteken en al aangaan met die lewe. Alles wat ons van wonde gesê het, is ook waar wanneer ons harte seerkry. Ons moet eers aandag aan die seer gee, en dan die Here toelaat om ons gesond te maak.

Vir die volwassenes. Met die eerste lees klink Jesus se antwoord aan hierdie man wat bereid is om Hom te volg, geweldig hard, selfs gevoelloos. Sou Jesus dan nie geweet het dat dit een van die heel belangrikste take van ‘n seun is om sy oorlede pa te begrawe nie? Het Hy vergeet dat dit beskou is as ‘n teken van respek? Wil Hy regtig nie hê dat ons ons oorlede familie moet begrawe nie? Het Hy dan geen simpatie nie?

Natuurlik kan dit nie waar wees nie. As daar iemand is wat ons hartseer verstaan, is dit juis Jesus. Waarom anders sou Hy dan by die graf van Lasarus gehuil het? Nee, Hy weet hoe belangrik dit is dat ons oor die seer in ons lewens kan rou. Gelowiges is nie mense wat hul natuurlike hartseer onderdruk om watter rede ookal nie. Hulle is juis eerlik daaroor dat hulle seergekry het en kan dus daaroor huil. Hulle stort hulle hartseer by Sy voete uit.

Wat Jesus eintlik vir hierdie man sê is dat volgelingskap die hoogste prioroteit in ons lewens moet wees. Ons moenie toelaat dat die hartseer ons op so ‘n manier vasgryp, dat ons Hom uit die oog verloor nie. Daarom hierdie drie belangrike praktiese sake:

Ons moet soek na wat dit in ons situasie beteken dat Jesus vir die man gesê het: gaan verkondig jy die koninkryk van God. Wat wil die Here hê moet ek doen? Waarmee moet ek besig wees? Kan my wonde dalk daartoe bydra date k beter toegerus is vir hierdie opdrag?

Moenie van God af wegdraai in die tyd van seer nie. Al het jy hoeveel vrae, bly met God worstel. Ons het soveel voorbeelde van figure in die Bybel, bv. Abraham, Isak, Jakob, Job en ander wat met God geworstel het. Dit is nie ‘n teken van ongeloof indien iemand met God worstel nie.

Wat het Paulus en Silas gedoen terwyl hulle in die tronk was en nie geweet het wat die volgende dag gaan oplewer nie? Hulle het tot eer van God gesing. Hulle het hul gedagtes gerig op dit wat daar bo is (Fil 4: 8) En voor hulle hulle kom kry, was die nag verby.

Ons sal altyd die littekens van ons wonde dra en niemand kan van ons verwag om dit te vergeet nie. Ons kan nie. Maar ons kan wel ons seer na die onderste hoek van ons lewens tv skuif, sodat dit nie meer die middel van die prentjie volmaak nie. Dan kan ons (weer) op Hom fokus en waarlik lewe tot Sy eer.

Mag die res van die week vir jou ‘n teken wees van die feit dat die Here jou liefhet en jou verstaan.

 

Warm nuus

Vers vir die Dag

Praat saam oor Preke

Bybel-Media